Hoe gaan dit op die Plaas?

Agri-toerisme is ‘n onontginde geleentheid in Suid-Afrika wat die potensiaal het om in die toekoms as ‘n vuurtoring in die platteland te dien, sê Neels van Heerden

Lees meer….

Het kampering vervelig geraak? Ons kampeer van Paasnaweek tot Paasnaweek, van klubsaamtrek tot klubsaamtrek en skoolvakansies jaag ons see-toe! Kom ons werk ten minste een kampekskursie op ‘n werkende plaas in ons toekomsbeplanning in.

Alhoewel baie krom en skeef, was die landbou-bedryf oor die afgelope jaar of wat ‘n kierie wat die baie wankelende Suid-Afrikaanse ekonomie gesteun het.

Noodwendig skep plaasaanvalle, grondvergrype en opruiende politiekery van politici ‘n baie donker toekomsprentjie vir die landbou. Tog is daar ook baie positiewe aspekte wat meesal min aandag in die media kry. Die televisie-program “Megaboere”, grondhervormingsprojekte wat wel produktiewe resultate sien en die toekomspotensiaal van die landbou is ‘n lig aan die einde van die tonnel. En hierdie lig is nie ‘n aankomende sneltrein nie.

Noodwendig is voedselsekerheid, werkskepping, die opskerping van die vaardighede van plaaswerkers, en die opheffing van die lewenstandaarde van plaaswerkers belangrike faktore wat die wankelrige plattelandse ekonomie moet verstewig. Agri-toerisme is ‘n onontginde geleentheid om hierdie faktore te ondersteun. Een so ‘n inisiatief is Farmstay (www.farmstay.co.za) wat al vir ‘n dekade of drie bestaan. Op hulle webtuiste word die volgende belofte gemaak: “Farmstay Assurance: what you see on the screen is what you get on the farm!”. Dalk ‘n verwysing na sommige webwerwe waar die son en die maan belowe word, maar by aankoms tref jy ‘n verskietende ster aan.

Farmstay lys net meer as 280 plaastuistes oor al nege provinsiesregoor. Vir die miljoene stedelinge in Gauteng is daar ‘n skrapse 22 opsies beskikbaar. Hier is ‘n markgaping vir die stokperdjie-boere om sy inkomste uit sy naweekbedryf te verhoog en om sy grondjie te herklassifiseer as een wat ook ‘n bydrae tot toerisme maak – ‘n kleiner teiken vir die grondgrypers-beweging.

Akkommodasie op farmstay wissel van gastehuise tot game lodges. Min opsies vir kampering word spesifiek vermeld. Die gevolgtrekking is dat die kampeersegment dalk nie spesifiek deur die farmstay-lede geteiken word nie. Vir spys en drank is daar ‘n wye reeks opsies – selfsorg tot aansitplaaskos-etes. Doen-dinge wissel van stoelsit om vars lug in te asem en die natuur se skilderye te geniet, tot aktiewe stap of rustig ronddrentel om plaasaktiwiteite soos skaapskeer, veegetalle aanteken en die dip van beeste waar te neem. Hengel (meesal vang, soen, kliek en terugplaas), koeie melk, en diere kosgee is ook hier-en-daar moontlik. Tennisbane, bergfiets- en perderitroetes is ook plek-tot-plek beskikbaar.

In 2016 is ‘n nuwer, maar redelik soortgelyke inisitief as farmstay geloods, naamlik Agri-toerisme Suid-Afrika (ASA) (www.agritourismsouthafrica.com). Enige plaas of landbou-produk/dienste verskaffer wat toerisme-vriendelik is, word aangemoedig om aan te sluit. ‘n Minimale aansluitingsfooi en ‘n jaarfooi is wel betaalbaar. Die groot verskil is dat AgriSA en die WWF dit indirek ondersteun. ASA mik spesifiek om ‘n “plaaservaring” te bevorder, om die gemeenskap in te lig oor wat boerdery alles behels en om die positiewe bydrae wat die plaasgemeenskap tot die volkshuishouding maak, op die voorgrond te plaas. ASA is dus ‘n skakel tussen sy lede (boere en hulle werkers) en toeriste (plaaslik en internasionaal). Boere word geadviseer om ‘n eiesoortige toerisme-produk te vestig en te ontwikkel. Klein-skaal prosessering van plaasprodukte word ook ontwikkel. Hierdeur word die waarde van die basiese produk wat geoes word omskep in ‘n hoërwaarde-produk soos konfyt. Plaaswerkers kry addisionele vaardighede en die toeris (kampeerder) neem deel aan die kook van konfyt, die inmaak van groente en vrugte, en voedselverwerking. Kampeerders kan deelneem aan spyskaartbeplanning vir die volgende dag se etes, hulle kan resepte ontwikkel en bestanddele oes – “from the farm to the fork”.

Kliek op agritourismsouthafrica.com en loer wat ASA-lede alles bied. ‘n Kort beskrywing van elkeen van die amper vyftig geregistreerde se akkommodasie-opsies (veral hutte, tente, en boswastaanplekke), veiligheidsmaatreëls (swerfwagte, elektriese heinings, veldwagters), vryetydsopsies (Fly-fishing in trout dams, hiking and mountain biking on well marked trails, birding, botany, archaeology, swimming in rock pools, guided horse riding. Trail and road running), en plaasaktiwiteite. Een so ‘n bestemming is Verlorenkloof wat beskryf word as ‘n woelige bees- en suiwelplaas wat hulle eie yoghurt en kaas produseer. Besoekers word aangemoedig om met die personeel te skakel en deel te neem aan bedrywighede by die stalle en melkery. Voorsiening word ook gemaak dat toeriste terugvoering kan gee op ASA se webtuiste. Hierdie terugvoering is oop sodat enige lid van die publiek dit kan lees.

In die VSA besoek meer as 60 miljoen toeriste jaarliks plase, stoetboerderye, wynkelders ensovoorts. Na raming het dit tussen $800 miljoen en $3 miljard verdien uit agri-toerisme. In lande soos Brittanje en Italië verdien heelwat boere meer uit agritoerisme as uit hul hulke tradisionele boerderyaktiwiteite. Statistieke Suid-Afrika kan nog nie syfers verskaf oor hoe groot die plaaslike bedryf is nie. Volgens ASA kan slegs werkende plase as ‘n agritoerisme-bestemming bemark word. Die ideaal is as so ‘n bestemming binne drie ure se ry van die stad is. Boere kan ook saamwerk om ‘n agritoerismeroete te ontwikkel.

Het kampering vervelig geraak? Kampeer jy van Paasnaweek tot Paasnaweek, van klubsaamtrek tot klubsaamtrek en skoolvakansies jaag jy see-toe! Werk ten minste een kampekskursie op ‘n werkende plaas in jou toekomsbeplanning in.

Copyright Agritourism South Africa @2016. All Rights Reserved.
Not for replication or distribution in any form.

Sharing is caring!

Leave your comment